Kolossense 1:15 sê
“Ons kan God nie met ons oë sien nie.
Sy Seun is egter die beeld van God.
Deur na Hom te kyk sien ons wie en hoe God is.
Niks in die skepping kan met Hom vergelyk word nie.”
Paulus skryf hier oor die uniekheid van Jesus.
Hoekom?
Daar was denkers in Kolosse wat stories versprei het,
dat Jesus nie so uniek was nie.
Vandag nog versprei mense sulke stories oor Jesus.
Paulus sê as jy wil weet hoe God is, moet jy na Jesus kyk.
Die Griekse woord vir “beeld” wat hy hier gebruik,
beteken iets soos Jesus is die “foto” van God.
In Jesus sien ons God se liefde.
In Jesus sien ons God se almag.
In Jesus beleef ons God se persoonlikheid.
Kolossense 1:19 sê dat God self besluit het om volledig by sy Seun te wees!
In Jesus leer ons wie God is.
Aan die kruis het Jesus vir ons kom bewys hoe ernstig God oor sy liefde vir ons is!
Jesus is as’t ware in elke raampie van die film van ons lewe!
As ons die geestelike dimensie sou kon verfilm, sou ons Hom in elke raampie by ons sien.
Paulus gaan nou nog verder in vers 23, en sê dat ons hierdie boodskap moet aanhou glo!
Ons moet vasstaan soos ‘n huis op stewige fondamente.
Soos ‘n paal wat diep ingekap is.
Ons moenie ‘n duim afwyk van hierdie boodskap waarvan ons oortuig geraak het nie.
Die boodskap wat oor die hele wêreld aan mense verkondig word.
Die boodskap waaraan Paulus met al sy tyd en energie werk.
Wat is die boodskap?
Die boodskap is:
Jesus is die Here!
Deur die eeue heen, beweeg Christene op gevaarlike terrein met hierdie boodskap!
Hiermee het hulle ontken dat die Keiser die Kurios is, die Here is.
Jesus is die Here!
Selfs tydens die Tweede Wêreldoorlog,
moes Martin Niemöller in die Dachau konsentrasiekamp land,
omdat hy gepreek het “Christus is my Führer” – nie Hitler nie.
Ons staan vas by hierdie boodskap.
En ons leef hierdie boodskap!
Jesus is uniek!
Niks in die skepping kan met Hom vergelyk word nie!
Jesus is die Here!
Die Here van my lewe!
Ernest