Paulus gaan nou verder in 2 Korintiërs 8:7-9 en rig ‘n versoek aan die gemeente.
Hy vra hulle om die geldinsameling vir die arm Christene in Judea op die hart te dra.
Hy sê in vers 8 dat hy nie aan hulle wil voorskryf wat om te doen nie.
Jou reaksie wanneer jy gee, sal wys of jou liefde vir die Here en vir mense eg is,
en of dit net lippetaal is.
Vers 9: “Julle weet tog hoe ongelooflik goed ons Here Jesus Christus vir ons almal is.
Aan die einde van vers 9 sê hy:
“Christus het julle wat eers brandarm was, nou skatryk gemaak.
Gaan wys nou hoe dankbaar julle teenoor Hom is,
deur julle besittings met ander gelowiges te deel.”

Wanneer jy jouself volledig gegee het, vers 5,
dan sal dit ook duidelik blyk uit hoe jy met ander deel wat jy het.

‘n Boer het opgewonde vir sy gesin gesê dat een van hulle koeie
die vorige aand twee kalfies gekry het.
Hy het besluit hulle moet een vir die Here gee.
Sy gesin wou weet watter een?
Die boer het gesê dat wanneer die tyd aanbreek om hulle te verkoop,
hy presies sal weet watter een!
‘n Paar dae later het die boer moedeloos in die huis aangekom,
en aangekondig dat die Here se kalf dood is!

Ons moet onthou dat ons gee vanuit God se genade aan ons!
Die besef van hoe groot God se genade vir jou is,
gaan bepaal hoe groot oop jou hand is, om te gee!
Of hoe toe jou hand sal wees, “omdat die Here se kalf dood is.”

Winston Churchill het gesê:
“We make a living by what we get,
but we make a life by what we give.”
Vers 9:
“Julle weet tog hoe ongelooflik goed ons Here Jesus Christus vir ons almal is….
Gaan wys nou hoe dankbaar julle teenoor Hom is….”

Ernest