“Rentmeesterskap is alles wat ‘n mens doen,
ná jy gesê het: “Ek glo!”

Paulus praat steeds met die gemeente,
oor wat hulle gee vir die Here se werk en die armes.
In 2 Korintiërs 9:6-8 sê hy:
“Ek gaan nie aan julle voorskryf hoeveel julle moet gee nie,
maar ek gee wel vir julle die volgende riglyn:
‘n boer wat min plant, kry ‘n klein oes,
en ‘n boer wat baie plant, kry ‘n groot oes.
Gaan besluit nou self hoeveel julle wil gee.
Moenie ‘n klomp geld gee, en dan na die tyd daaroor spyt kry nie.
Moet ook nie verplig voel om iets te gee nie.
Onthou wat die Bybel sê:
God is lief vir mense wat hulle geld met blydskap weggee.
God laat julle in al sy goedheid deel.
Nee, eintlik oorlaai Hy julle met sy genade,
sodat julle altyd oorgenoeg van alles het.
Julle het geen gebrek op geestelike of materiële gebied nie.
Daarom kan julle altyd goed doen, en ander mense help.
Ja, julle lewe kan regtig oorloop van vrygewigheid en goeie werke.”

Dit was Eugene Grimm wat dit gesê:
“Rentmeesterskap is alles wat ‘n mens doen,
ná jy gesê het: “Ek glo!”

Moenie gee omdat jy skuldig voel nie.
Of jy voel dat iets of iemand jou in ‘n greep het nie.
Geniet om te gee wat jy weggee!
God wil hê daar moet vreugde en dankbaarheid in jou gee wees!
Wanneer jy gee omdat jy moet, is dit wet.
Wanneer jy gee omdat jy behoort te gee, is dit verpligting.
Wanneer jy gee omdat jy wil, is dit uit genade en dankbaarheid.
Uit vreugde omdat God jou oorlaai met sy genade!

Jy wil, want jy kan nie anders nie!
Wees ‘n vreugdegewer!
‘n Dankbaarheid gewer!
‘n Genade-gewer!

Ernest