Moenie vir jou skatte op aarde bymekaarmaak nie.
Maak vir jou skatte in die hemel bymekaar.
“Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” Matteus 6:21.
Jesus se woorde!
‘n Baie ryk grondeienaar het gereeld langs sy grensdrade van sy grond gaan ry.
Dan was hy baie trots oor die rykdom wat hy verwerf het,
en dat hy die rykste man in die vrugbare vallei was.
By geleentheid het hy by een van sy bywoners gestop,
wat onder ‘n boom gesit en bid het, net voor hy middagete sou eet.
Hy wou by die bywoner weet wat hy besig is om te doen.
Die bywoner het geantwoord dat hy besig was om God te dank vir sy maaltyd.
Die grondeienaar het hierop geamuseerd gesê dat as dit al kos is wat hý het om te eet,
sal hy nie lus voel om God te dank daarvoor nie.
Die bywoner se antwoord was:
“God het my alles gegee wat ek nodig het.
Hy doen dit elke dag.
Ek sou ook graag my kos met u wou deel.
Ek is regtig baie baie dankbaar daarvoor.”
Die bywoner sê toe verder dat hy bly is hy sien die eienaar,
want hy het die vorige aand gedroom dat die rykste man in die vallei daardie nag sou sterf!
Hy weet nie wát dit beteken nie!
Die grondeienaar het verontwaardig gesê dat drome nét drome is!
Maar hy het daaroor bly dink……
Hy het sy huisdokter gebel en gevra om hom te kom ondersoek,
en om die aand by hom oor te bly, net vir ingeval….
Die volgende oggend het hy en die dokter lekker saam ‘n groot smaaklike ontbyt geniet,
en die dokter is daar weg.
Kort na ontbyt het ‘n boodskapper daar aangekom met die nuus:
Die bywoner is die vorige aand in sy slaap oorlede!
Die rykste man in die vallei is toe werklik daardie nag oorlede!
Want rykdom lê nie in grond nie, of in die bank nie, of in die kluis nie,
of in die motorhuis nie, of in die klerekas nie…….
Daardie soort rykdom beteken niks nie!
Rykdom in die bank voed jou ego.
Rykdom in die hart voed jou siel.
Ware rykdom word gevind in ‘n lewende verhouding met die Here.
Om Hom bo alles lief te hê.
Om jou medemens lief te hê.
Om intens dankbaar teenoor die Here te leef….selfs vir ‘n bietjie kos.
Om jou liefde, en dit wat jy besit, met dankbaarheid met ander te deel.
Om só dankbaar te wees teenoor die Here dat jy kan lewe, asemhaal,
loop, vat, sien, hoor, proe, ruik….eet.
Om te kan ervaar hoe geliefdes jou liefhet, en jou vashou!
Om te beleef hoe medegelowiges vir jou omgee!
Om met vreugde te gee, vir die werk van die Here, en die koninkryk van God!
“Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees”……sê Jesus.
Ernest