Jy is nie toevallig hier nie.
Jy is nie per ongeluk of per geluk gebore nie.
Jy is nie deel van ‘n sogenaamde noodlot nie.
Die Here het ‘n plan met jou tot in fyn besonderhede.
Psalm 139:16-17 sê:
“…al my lewensdae was in U boek opgeskrywe,
nog voordat ek gebore is.
Hoe wonderlik is U gedagtes vir my…”

Die lewe van Jesus is ‘n voorbeeld hiervan.
Sy koms as ‘n baba in Betlehem.
Sy aardse bediening, en lyding.
Sy dood en opstanding.
Sy hemelvaart.
Alles vind plaas volgens God se plan.
Jesus weet dit, en is daarom vasbeslote om sy Vader se wil uit te leef.
Lukas 9:51 sê:
“Hy het vasbeslote die reis na Jerusalem begin.”
Jesus gee doelbewus uitvoering aan God se wil.

Dit is ook waar van die lewe van elke kind van die Here.
God het ‘n doel met jou lewe.
Jesus het self gesê soos die Vader Hom gestuur het, stuur Hy ons.
Ons grootste doel is om soos Jesus te leef in hierdie wêreld!
Dit beteken dat ons sal soek vir geleenthede om die Here te dien,
en sy Naam te eer!
“Maak die beste gebruik van elke geleentheid….” Efesiërs 5:16.
Ons sal lewe, om soos Jesus te lewe, en so God se wil te doen.
Ons sal nie net bestaan nie.
Gryp nou die lewe, en leef dit vasbeslote, soos Jesus.

Ernest