“Wees jy vir die gelowiges ‘n voorbeeld in woord en gedrag,
in liefde, geloof en reinheid.” 1 Timoteus 4:12.

Jou lewe, jou gedrag en woorde, laat daagliks ‘n spoor.
Baie mense kyk hoe jy leef en wat jy sê,
omdat jy beweer jy is ‘n kind van die Here.

Will Houghton van die Moody Bybel Instituut was leraar van ‘n kerk in New York.
‘n Ongelowige het besluit as iemand se lewe vir hom kan wys
wat dit beteken om die Here te ken en te volg,
dan sal hy dit doen.
Hy het Will Houghton uitgekies as die een om op te fokus.
Hy het ‘n private speurder gehuur om Houghton te volg en noukeurig dop te hou.
Die se verslag het uiteindelik bevestig dat Houghton se lewe opreg was,
en dat hy ‘n man van integriteit is.
Hy het na sy gemeente gegaan en Jesus as Verlosser aangeneem,
en Hom voluit gevolg.

Nehemia is ook so ‘n Bybel karakter wat mense se lewens drasties beïnvloed het.
Ook die rykes en hooggeplaastes het na hom geluister,
toe die muur van Jerusalem herbou moes word.
Hy het selfs hulle aangespreek en vermaan.
Hoekom het hulle na hom geluister?
As gevolg van sy lewe.
Sy integriteit.
Hy het self gedoen wat hy van ander verwag het.
Hy het nederig en met integriteit gelei.
Die rede was ook dat hyself die Here gevolg het.
Hy het gevas en gebid en verskeie dae met die Here gepraat.
Eers daarna het hy, soos die Here hom gelei het, die sekuriteit van sy posisie
aan die hof van die koning verlaat, en na Jerusalem gegaan.
Daar het hy gebly tot die mure herbou was en wet en orde geheers het.

Wees beskikbaar, sodat die Here ook so deur jou kan werk.
Wees ‘n voorbeeld in woord, en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.

Ernest