In 1 Korintiërs 15:4-10 vertel Paulus hoe die Here Jesus na sy opstanding gesien het.
Petrus het Hom eerste gesien.
Dit is merkwaardig dat Petrus een van die eerstes is om dit te beleef.
Petrus was die dissipel wat Hom verloën het.
Jesus skryf ons nooit af nie!
Hy verskyn nogtans aan Petrus.
Later sien al twaalf sy getrouste volgelinge Hom.
Daarna verskyn Hy aan vyfhonderd mense gelyk.
Jakobus het toe aan die beurt gekom.
Hy is Jesus se broer.
Ons weet Jesus se familie het Hom ook sleg behandel.
In Markus 3:21 sê sy familie Hy het van sy kop af geraak!
In Johannes 7:5 lees ons selfs sy broers het nie in Hom geglo nie!
Jesus verwerp hulle nie.
Hy oorlaai hulle eerder met liefde en genade.
So word Jakobus een van die leiers van die vroeë kerk.

Daarna verskyn Jesus ook aan die apostels.
En heel laaste aan Paulus, sê hy in 1 Korintiërs 15:8.
Paulus sê as dit by die apostels van die Here kom, staan hy agter in die ry.
Hy sê dat hy eintlik nie eers in die ry moet staan nie!
Hy het vroeër die mense van God vervolg en probeer seermaak.
Maar God was wonderlik goed vir hom, sê Paulus.
Hy verdien niks nie, en tog het God hom gemaak wat hy nou is.

Elkeen van ons kan maar net sê wat Paulus in 1 Korintiërs 15:10 sê:
“Deur die genade van God is ek wat ek is.”
Juis daarom moet jy nooit minderwaardig oor jouself dink nie.
Sien jouself deur God se oë.
By Hom lê die krag om opreg te wees wie jy is.
Deur sy genade is jy wie jy is.
In die fliek Forrest Gump, vra Jenny vir Forrest:
“Wat wil jy word wanneer jy groot is?”
Forrest antwoord haar:
“Kan ek nie net ek wees nie?”
Jy kan.
By Jesus kan jy wees wie en wat Hy jou gemaak het!
Gaan leef Wie jy nou in Hom is,
in die wêreld vir Hom!

Ernest