Galasiërs 6:1-2 sê in die Nuwe Lewende Vertaling:
“Liewe broers en susters,wanneer iemand iets doen wat verkeerd is,
moet julle wat deur die Gees gelei word,
daardie persoon nederig reghelp.
Wees baie versigtig dat jy nie ook versoek word nie.
Help ander gelowiges wat swaarkry,
en gee so uitvoering aan Christus se liefdeswet.”
Wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, vers 1,
is dit ook ‘n vorm van swaarkry, vers 2.
‘n Ander vertaling sê: “Dra mekaar se laste…”
Ons moenie veroordelend wees nie,
maar die persoon met ‘n “sondelas” help, reghelp.
Ander kere lei die Gees hulle om ons reg te help.
Die Gees lei altyd, maar ons volg nie altyd nie.
As dit nie vir die genade van God was nie,
het ons almal in die moeras van die sonde gelê.
Die vers sê ook ons moet mekaar help met nederigheid.
Met deernis. Kyk met sagte oë.
Vergewe en help.
“Dra mekaar se laste….” beteken nie om die verkeerde te duld nie.
Baie dinge kan ons alleen met hulp dra.
Wanneer ons mekaar help dra, gee ons uitvoering aan Christus se liefdeswet.
Martin Luther het gesê kinders van die Here moet sterk skouers en bene hê,
sodat hulle swaar laste kan help dra.
Soos die een seun wat ‘n kreupel ander seun gedra het.
“Is hy nie swaar nie?”, vra iemand.
“He ain’t heavy, he’s my brother”, antwoord hy - ook ‘n liedjie van The Hollies.
So het ons lief soos Jesus liefhet.
Ons help mekaar om betekenis aan die lewe te gee.
Dan lewe ons nie in mekaar se skaduwee nie, maar in mekaar se lig.
Henry Nouwen het gesê as jy iemand teen ‘n opdraand uithelp,
kom jy self ook bo.
Help mekaar op, eerder as om mekaar af te druk!
Ernest