Woorde skiet tekort om die grootheid van God te beskryf.
Romeine 11:33-36 beskryf iets van die grootheid van God in mensewoorde.
“Niemand in die hemel of op die aarde het soveel wysheid en insig soos God nie.
Wie kan dit waag om God se oordeel te bevraagteken?
Wie is in staat om sy optrede te verklaar?
Wie ken God se planne?
Is daar iemand wat vir Hom kan voorskryf wat om te doen?
Is daar iemand wat vir God ‘n guns bewys het,
sodat Hy iets aan hom moet terugdoen?
Van God af kom alles wat bestaan.
Hy hou alles in stand.
Alles is daar om sy Naam groot te maak.
Vir altyd.
Ja en amen!”

As ons alles van God kon verstaan en verklaar, sou Hy nie ons God wees nie.
Ons sou dink ons is in beheer.
Selfs dat Hy verantwoording aan ons verskuldig is.
Ons probeer juis so dikwels om alles van Hom te verstaan en te verklaar.
Om Hom “onder beheer” te kry met ons denke.
God is God.
Ons is sy mense.
Ons kan Hom net in verwondering en nederigheid aanbid.
Daar is so baie dinge van God wat ons nie verstaan nie, en wil uitpluis.
Ons kan maar net weet dat ons nooit alles van God sal weet nie.
Hy is selfs nog groter as sy openbaring van Homself in die Skrif!
Ons weet baie dinge nié.
Maar dit is vir die gelowige genoeg dat Gód weet!

The Message vertaal die eerste deel van bogenoemde teks só:
“Have you ever come on anything quite like this extravagant generosity of God,
this deep, deep wisdom? It’s way over our heads.
We’ll never figure it out….”

Só groot is God!
“We’ll never figure it out!”

Daarom het iemand so treffend hieroor gesê:
“The Bible never once says: “Figure it out”.
But over and over it says: “Trust God!”
He’s already got it all figured out!”

God is groot!

Ernest