Romeine 6:18 en 20-23 praat hieroor.
Ons is nou nie meer slawe van die sonde nie.
Nee! Ons is nou God se slawe, sy dienaars!
Nou kan ons leef soos Hy dit wil hê.
Vroeër was ons verslaaf aan die sonde. Verslaaf!
Ons kon eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie.
Maar om in sonde te leef, is niks anders as ‘n doodloopstraat nie!
Gelukkig het God ons hieruit kom haal.
Ons is nou voltyds in sy diens. Ons leef vir Hom.
Hy verander ons lewens nou al hoe meer tot sy eer.
Boonop wag daar ‘n wonderlike toekoms op ons.
Die dood is nie meer ons voorland nie.
Nee, ons gaan vir altyd in God se splinternuwe wêreld bly.
Ons moet weet: as ‘n mens jou hele lewe lank vir die sonde werk,
is die dood jou beloning.
So eenvoudig is dit.
God gee egter aan ons die ewige lewe verniet!
Dit is sy geskenk aan ons, wanneer ons in Christus Jesus as ons Here glo!
Portia Nelson beskryf dit só:
Ek loop in ‘n straat. Daar is ‘n diep gat. Ek val daarin. Dit is nie my fout nie.
Dit neem my lank om daaruit te kom.
Ek loop weer in dieselfde straat af. Ek val weer in die diep gat.
Ek kan dit nie glo nie! Dit is nie my fout nie. Ek sukkel om uit te kom.
Ek loop weer in dieselfde straat af. Ek val weer in die diep gat.
Maar, ….dit is weer nie my fout nie. Ek maak nie foute nie.
Ek loop weer in dieselfde straat af, en val weer in dieselfde diep gat!
Dit word nou ‘n gewoonte. Ek is ‘n mislukking. Dit is my fout.
Ek klim onmiddelik uit.
Ek loop weer in dieselfde straat af. Die diep gat is steeds daar.
Ek loop om die gat.
Ek loop in ‘n ander straat!
Hierdie ander straat waarin ek nou loop, se naam is Genadestraat!
God se genade is so groot!
Ernest