Die Here is ‘n God wat lojaliteit vra, sê Nahum 1:2.
Nahum 1:3 sê:“Die Here word stadig kwaad,
maar sy krag is groot.” NLV
Die Here is regtig so lankmoedig met mense.
Ook met jou.

In die boek Nahum gaan dit ook oor Nineve, net soos in Jona.

Die boek Jona sou ‘n lekker spannende rolprent maak.
Dit vertel van ‘n groot profeet wat vlug,
‘n verskriklike storm,
die profeet wat deur ‘n groot vis ingesluk word,
God wat ingryp en sy lewe red,
sodat ‘n heidense stad die evangelie hoor, berou het,
en tot redding kom!
Wat ‘n draaiboek kan dit nie wees nie!
Wat ‘n boodskap!

Nahum volg op Jona, in die Bybel net na Miga.
Hierdie boek is nie so bekend soos Jona nie.
Nahum het ook as profeet in Nineve gewerk, net soos Jona,
maar omtrent 100 jaar later.
Teen hierdie tyd het die Nineviete weer van die Here af weggedraai.
Die Here stuur dan vir Nahum om ‘n oordeel oor die stad uit te spreek.
Hierdie is die boodskap:
“Die Here word stadig kwaad, maar sy krag is groot.
Hy laat skuldiges nie ongestraf nie.” 1:3.

Maar Nahum kom ook met ‘n boodskap van bemoediging.
“Die Here is goed.
In tye van nood is Hy ‘n veilige vesting.
Hy ken elke mens wat op Hom vertrou.” Vers 7.
Wat ‘n boodskap!
God se oordeel is verseker,
maar ook sy genade!

God gee nie op met Nineve nie.
Hy spreek sy oordeel uit oor hulle wegdraai van Hom af,
maar ook sy genade in dieselfde asem!
Nineve kry weer die geleentheid om vir die Here te kies!

God se boodskap is vandag nog net so vars vir mense:
Oordeel vir volhardende ongeloof.
Genade vir elke mens wat op Hom vertrou!
Hoe reageer jy?
God ken elke mens wat op Hom vertrou!

Ernest