Nebukadnesar het ‘n goue beeld laat maak,
en mense gedwing om dit te aanbid.
Indien hulle dit nie doen nie,
sou hulle in ‘n vuuroond gegooi word.
In Daniël 3:16-18 lees ons dan:
“Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord:
“Ons hoef ons nie hieroor teen u te verdedig nie.
Die God wat ons aanbid, kán ons uit die vuur red.
Hy sal ons uit u hand bevry, U Majesteit.
En selfs al red Hy ons nie, Meneer die koning,
sal ons nie u gode vereer nie.
Ons sal nie die goue beeld wat u gemaak het, aanbid nie.”
Polikarpus (69-155nC) was biskop in Smirna.
Hy is deur die Romeinse owerheid beveel om Christus te vervloek.
Indien nie, sou hy op die brandstapel sterf.
Hy het gesê:
“Ek dien die Here al vir 86 jaar,
en Hy het my nooit enige skade aangedoen nie.
Hoe kan ek dan nou my Koning, wat my gered het, vervloek?”
Polikarpus het onbeweeglik oor sy geloof gebly,
en omdat hy Christus nie wou vervloek nie,
het hy ‘n vuurdood gesterf.
Dieselfde geloof, by Daniël se drie vriende en Polikarpus.
Maar twee verskillende gevolge!
Hierdie manne het met hulle geloof aangetoon,
dat geloof in God nie slegs geloof is in wat God kan doen nie,
maar dat Hy alleen God is!
Of Hy ons uit ons omstandighede verlos of nie,
sê die vriende van Daniël in bogenoemde teks.
Hy bly ons God!
Ons God Wie ons aanbid!
Ons volg Hom en aanbid Hom,
ongeag wat gebeur!
Ernest