Toe Jesus mense op die Sabbatdag genees het,
het Hy die godsdienstige mense van sy tyd diep geskok.
Die geestelike leiers het toe ook hul bes gedoen om Hom te probeer stilmaak!
Meer nog, doodmaak!
Lees maar Johannes 5:16-18.
In vers 39-40 antwoord Jesus hulle:
“Julle ondersoek die Skrif,
omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry.
En dit is juis die Skrif wat oor My getuig.
Tog wil julle nie na My toe kom, sodat julle die lewe kan kry nie.”

Jesus skud die status quo.

Dr. Jack Mezirow, voorheen van die Columbia Teachers College,
Beweer dat volwassenes die beste leer wanneer hulle met
‘n disoriënterende dilemma gekonfronteer word.
Ons is so “set in our ways.”
Jy moet gekonfronteer word met iets wat jou help om jou voorveronderstellings
van jare krities te beskou.
Ons redeneer dikwels onbewustelik:
“Ek het my besluit geneem – moenie my met feite verwar nie.”

Oswald Chambers het gesê dat God die manier het,
om feite aan die lig te bring,
feite wat ons veronderstellings en leerstellings omverwerp,
die dinge wat verhinder dat God ons siel en hart kan bereik.

Ontstellende ondervindings wat ons laat twyfel in dit wat ons glo,
lei dikwels juis tot ‘n dieper verhouding met die Here.
Ons ontdek Hom op ‘n ander manier vir Wie Hy is, en wat Hy doen.
Ons verstaan Hom beter, en vertrou Hom nóg meer!

Socrates het al gesê:
“Die lewe wat nie ondersoek word nie,
is nie werd om geleef te word nie.”

Jesus daag die status quo uit, ook in jou persoonlike lewe.
So skud Hy nie net die status quo nie,
maar Hy skud ook vir jou…..wakker!

Ernest