Het jy dit?
‘n Leerbare gees.

‘n Leraar het sy gemeente uitgedaag om in Augustus
elke dag ‘n hoofstuk van Spreuke te lees.
So kan hulle die boek Spreuke presies in ‘n maand deurlees.
So kan hulle ook baie oor wysheid leer in presies een maand.
Die seun het vir sy ma gesê die leraar maak ‘n fout.
Spreuke het 31 hoofstukke, en Augustus het net 30 dae.
Die ma het geglimlag en gesê Augustus het wel 31 dae.
Die seun het bly stry dat twee maande nié na mekaar 31 dae kan hê nie.
Die leraar en sy ma is beslis verkeerd!

Het jy ‘n leerbare gees?

Dit is só nodig dat ons ‘n leerbare gees moet hê.
Ons moet wysheid buite onsself soek.
Ons kan al die kennis hê, en wysheid mis!
Spreuke 3:7 sê:
“Moenie dink jy het die wysheid in pag nie,
dien die Here….”
Spreuke 2:2,4:
“Hou jou ore oop vir die wysheid…..
soek dit soos jy silwer soek.”

Of Augustus 30 of 31 dae het,
is nou nie die heel grootste kwessie nie.
Die belangriker vraag is hoe leerbare gees jy het?
Ware wysheid begin en eindig by God.
Hy wil sy wysheid ook deur medegelowiges vir jou gee.
‘n Leerbare gees help jou om wysheid by die Here én sy kinders te kry.

O ja, en lees ook Spreuke!
Dit gaan jou baie wysheid gee!

Ernest