Hebreërs 12:1-2 sê:
“…laat ons die wedloop wat vir ons voorlê,
met volharding hardloop,
die oog gevestig op Jesus,
die Begin en die Voleinder van die geloof.”

In Psalm 77:9 roep die Psalmskrywer uit:
“Het daar vir altyd ‘n einde gekom aan sy trou?”
Hy moes seker baie moedeloos wees!
Hy het beleef God het opgehou werk in sy lewe!
Ons voel ook somtyds so.
Mense gaan dikwels deur baie diep water……
Dan beleef en voel hulle dat die bouplanne opgerol is,
en die bouwerk gestaak is.

Die Here hou egter nooit op om te bou aan sy kinders nie!
Hy sal aanhou daarmee en die finale afwerking op sý tyd doen!
Daarom word Christus die Voleinder genoem, die “voltooier”.
Die heiligmaking wat die Heilige Gees in ons begin het,
sal voortgaan omdat God met ons voortgaan!
Ons kan op Jesus vertrou!
Die Begin en die Voleinder van die geloof!

God is nie die argitek van die onvoltooide nie.
Filippense 1:6 sê dat God, wat die goeie werk in ons begin het,
dit enduit sal voer en dit sal voleindig,
op die dag wanneer Christus Jesus kom!
Leef in gemeenskap met die Here.
Hy is deurgaans besig met sy bouwerk aan jou!
Totdat Jesus weér kom!

Ernest