Roeping het nie ‘n aftreedatum nie.
Roeping word nie gekoppel aan die aantal tjeks wat jy oorhet, voor aftrede nie.
Roeping gee ook nie op nie.
Roeping verval nie in moedeloosheid en bly lê nie.
Verseker gaan jy terugslae kry,
in die roeping wat jy van die Here ontvang het,
en wat jy in jou konteks moet gaan uitleef.
Soms gaan dit vir jou onmoontlik voel om dit uit te voer.
Maar die geloof en oortuiging dat God jou die roeping gegee het,
om vir Hom te gaan doen wat jy moet doen,
sal jou bly dra.
‘n Leraar het lank in ‘n gemeente gewerk,
sonder opmerklike resultate.
Hy het begin moedeloos word.
Een aand droom hy sy werk is soos
om ‘n reuse granietrots te probeer stukkend kap.
Uur na uur kap hy, sonder sukses.
Dag na dag. Maand na maand. Jaar na jaar.
Net toe hy uit moedeloosheid ophou,
vra ‘n man aan hom:
“Was jy nie aangestel om hierdie taak te verrig nie?
Is dit nie jou roeping om dit te doen nie?
Dit is tog die oortuiging wat jy gekry het,
dit is wat jy vir die Here moet doen waar jy leef.
Waarom hou jy op?”
Die leraar het gesê hy maak geen indruk op die rots nie.
Dit is tevergeefs.
“Dit is nie jou probleem nie”, antwoord die man.
“Die werk is in jou hande, die resultate is in God se hande.
Volhard met jou roeping.”
Die leraar het weer die pik opgetel,
en met die eerste hou wat hy kap,
het die granietrots in honderde stukke uitmekaar geskiet!
Hy het opgehou kap,
net voor die kap wat die deurbraak sou wees.
Hy het uit sy droom wakker geskrik en opnuut sy roeping besef.
Volharding kom nie net van ‘n sterk “ek wil nie”,
maar ook van ‘n sterk “ek sal nie”.
Die rotse in jou lewe mag onbreekbaar lyk,
maar as jy binne God se roeping vir jou leef, sal jy slaag!
Galasiërs 6:9 is ‘n teks om te onthou in terme van volharding:
“As ons nie verslap nie,
sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.”
Volhard in jou roeping.
Leef jou roeping uit waar jy leef.
Die werk is in jou hande.
Die resultate in God se hande.
Ernest