Sommer met die intrapslag het die dosent aan die student gevra:
“Ondervind jy enige probleme met die Bybel?”
“Nee”, het die student selfversekerd gesê.
“Waarom lees jy dan nie genoeg Bybel nie?
Wanneer jy lees, sál jy probleme ondervind.”
Wanneer ons die Bybel aandagtig lees, sal ons vrae hê.
Petrus het dan selfs gesê dat sommige van Paulus se skrywes moeilik is om te verstaan.
In 2 Petrus 3:16 sê hy:
“Daar is dinge in sy briewe wat moeilik is om te verstaan.
Oningeligte en onverstandige mense gee daaraan ‘n verkeerde uitleg,
soos hulle trouens ook doen met die res van die Skrif,
en dit tot hulle eie ondergang.”
Paulus het ook self gesê ons ken nou maar net ten dele.
Maar eendag sal ons ten volle ken. 1 Korintiërs 13:12.
Ons probleme om die Woord reg te verstaan,
is nie te wyte aan Goddelike foute nie,
maar aan menslike onkunde.
Dikwels sien ons net die een kant van die waarheid raak.
Dan lyk dit op die oog af of die Bybel homself weerspreek.
Ander kere worstel ons met óns verstaan van realiteite, soos pyn en lyding.
Nog ander kere wil ons God aftrek na ons verstaansvlakke.
Dan vergeet ons God is God, en nie ‘n mens nie.
Ons weet nie alles nie.
En selfs die Woord van God openbaar Hom en sy weë nie in alle volheid nie.
Deuteronomium29:29 sê:
“Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God,
maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons.”
Die “moeilik verstaanbare” hoef nie ons vertroue in God te ondermyn nie,
of ons vertroue in sy Woord nie.
Die Here wil dat ons die Bybel lees en bestudeer.
’n Leerbare gees wat vrae stel,
is vrugbare grond vir ontkieming en groei!
Ons moet in nederigheid bly leer, en groei.
En ons dank God vir sy openbaring aan ons,
wat genoeg is om ons roeping te verstaan,
en dit uit te leef tot sy eer!
Ernest