Efesiërs 4:27 sê so duidelik:
“Moenie die duiwel vatkans gee nie.”
Wat verstaan ons nie……
van hierdie eenvoudige en duidelike waarskuwing nie!?
Hoeveel keer doen ons nie juis dit nie!
Ons loop oop oë en doelbewus in ‘n versoeking in,
en dink ons sal in beheer bly.
Dit is die probleem.
Ons dink ons bly in beheer wanneer ons in die vuur inloop.
Soos die persoon wat by die priester bieg en duidelik iets terughou.
“Is jy seker dit is álles wat jy wou sê?
Is jy seker jy het nie onrein versoekings wat jou pla nie?”, vra die priester.
“O nee” antwoord die persoon,
“maar sulke gedagtes kom troetel en vermaak mý gereeld.”
Moenie dat versoekings begin om jou gedagtes te oorheers nie.
Want dan begin die duiwel vatkans aan jou kry.
Onthou ook dat versoeking nie sonde is nie.
Dit word sonde wanneer jy dit verwelkom,
gedurig daaraan dink.
Paulus sê ‘n uitstekende ding in 2 Korintiërs 10:5.
“Ons neem elke gedagte gevange,
om dit aan Christus gehoorsaam te maak.”
Wanneer ons verkeerde gedagtes in ons denke toelaat,
word dit versoekings wat vatkans soek, en dit kry….
Moenie dink jy kan alleen in beheer bly nie.
Neem dit dadelik vir Christus gevange,
om dit aan Hom gehoorsaam te maak!
Ernest