Die Washington Post het ‘n eksperiment gedoen,
om mense se waarneming te toets.
‘n Beroemde violis is gevra om anoniem by die spoorwegstasie
in Washington op te tree.
Duisende mense het verbygestap terwyl hy gespeel het.
Enkeles het gaan staan om te luister.
Na ‘n aansienlike tyd was daar slegs 32 dollar in sy vioolhouer.
Twee dae tevore het hierdie selfde man dieselfde Stradivarius viool gespeel.
Toe het hy in ‘n vioolkonsert opgetree waar alle sitplekke uitverkoop was.
Hierdie man was Josua Bell, met sy Stradivarius viool van 3,5 miljoen dollar.
Sitplekke uitverkoop teen 100 dollar stuk.

Die top vioolspeler, met die top viool, was onherkenbaar op die stasieterrein.
Bloot omdat mense hom nie daar verwag het nie, het hulle hom daar misgeloop.
Hy het nie swakker musiek gemaak, of homself vermom nie.

So was dit ook met die Here Jesus Christus.
“Hy wás in die wêreld….
en tog het die wêreld Hom nie erken nie.” Johannes 1:10.
Mense het Jesus ánders verwag, as hoe Hy gekom het, en opgetree het.
Net soos ons nie ‘n beroemde vioolspeler op ‘n straathoek sal verwag nie,
het die mense nie verwag dat die Messias in ‘n stal gebore sou word,
en aan ‘n kruis sou sterf nie.
Hulle vooropgestelde verwagting het hulle verblind.

Dit gebeur dikwels ook met ons.
Ons vooroordele en verwagtings maak ons blind,
en laat ons die Here misloop, waar ons Hom nie verwag nie, of nie wil hê nie.

Moenie die Here misloop nie.
Hy is daar!

Ernest