Moses het al vir die volk gesê:
“Hou moed en wees dapper!
Moenie bang wees nie….
want die Here julle God gaan saam met julle.
Hy sal julle nie in die steek laat nie,
julle nie alleen laat nie.” Deut. 31:6.

Later sê die Here dit ook self vir Josua!
“…so sal Ek by jou wees.
Ek sal jou nie in die steek laat nie,
jou nie verlaat nie.” Josua 1:5.

Die Hebreër-skrywer eien dit toe, vir álle kinders van God!
Hebreërs 13:5 sê:
“God self het gesê:”Ek sal jou nooit verlaat nie,
jou nooit in die steek laat nie.”

Daarom bid ons eintlik onnadenkend wanneer ons bid:
“Here, wees by my.”
God het tog reeds beloof dat Hy áltyd by my sál wees!
Dat Hy my nie sal verlaat nie, en my nie in die steek sal laat nie!
God se teenwoordigheid is reeds by my, om my krag te gee,
om sy wil te doen, en nie my wil nie.
Juis dit, is waarvoor ek moet bid.
Die Here woon reeds deur sy Gees in my!
Ek hoef nie te vra “wees by my nie.”
Hy wil my reeds deur die Gees lei,
waar ek moet gaan, en hoe ek moet lewe.
Ons moet bid om gehoorsaam aan die Gees te wees,
wat reeds volkome in ons woon, en ons volkome wíl beheer!

God ís by ons.
Ons hoef nie daarvoor te vra nie.
Die vraag is of ons ín sy teenwoordigheid, sý wil doen?
Ons kan eerder bid:
“Here, dankie dat U altyd bý my is!
Help my om in U teenwoordigheid gehoorsaam te wees aan U Gees,
en U wil te doen, en nie my wil nie.”

Ernest