Paulus skryf treffend in Galasiërs 2:19-21 oor die lewe vir Jesus!

In Die Boodskap klink dit so:
“Gelukkig is ek nou dood vir die wet.
Al het die wet my skuldig verklaar
omdat ek dit oortree het,
leef ek nou vir God.
Want ek is saam met Christus gekruisig……
Daarom is ek nou ‘n nuwe mens.
Daardie ou sondige ek is iets van die verlede……
Christus leef nou in my.
Nou leef ek deur geloof.
My hele bestaan draai om die Seun van God.
Hy het my so lief dat Hy bereid was om sy lewe vir my op te offer.
Ek kan nooit God se goedheid deur my vingers laat glip nie!...”

“My hele bestaan draai om die Seun van God!....”
Kan jy dit saam met Paulus sê?

Die vraag wat ons dikwels hoor is:
“Is jy bereid om vir Jesus te sterwe?”
Hierdie vraag is die meeste van die tyd blote spekulasie.
Dit is wel ‘n realiteit in lande waar mense vir hul geloof vervolg word.
Statistieke sê dat meer mense sedert 1980 vir hul geloof gesterf het,
as in al die eeue voor dit saam!

Die feit is egter dat dit nie van ons gevra word in die konteks waarin ons lewe nie.
Waarskynlik sal dit nooit van jou gevra word nie.

Maar die baie groter en belangriker vraag wat aan jou gevra word is:
“Is jy bereid om vir Jesus Christus te lewe?”
Is jy bereid om in jou konteks voluit vir Hom te lewe….ongeag!?
Ongeag wat dit vra, of tot gevolg sal hê!
Ongeag wat dit jou sal kos.

As jy bereid is om vir jou geloof te sterf,
hoeveel te meer nie om daarvoor te leef nie!

Laat jou hele bestaan draai om die Seun van God!

Ernest