2 Korintiërs 5:16 sê:
“Ons beoordeel van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie.”
Vers 17 sê:
“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.
Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

Die Boodskap sê só:
“Noudat ek op ‘n nuwe manier leef,
dink ek ook op ‘n nuwe manier oor ander mense, en oor Christus.”

‘n Amerikaanse kapelaan en ‘n Katolieke priester was groot vriende in WO2.
Die kapelaan het tydens ‘n veldslag gesterf.
Die priester het gevra of hy die kapelaan by sy kerkie kon begrawe.
Die Amerikaanse regering het ingestem.
Die Katolieke kerk wou egter nie toelaat dat ‘n nie-katoliek,
in ‘n katolieke begraafplaas begrawe word nie.
Hy is gevolglik buite die begraafplaas se heining begrawe.
Later jare, na die oorlog, het ‘n vriend van die afgestorwe kapelaan sy graf kom besoek.
Hy het die ou priester gevra om vir hom die graf te gaan wys.
Verbaas het hy uitgeroep dat hy sien die priester het toestemming gekry,
om die graf na binne die heining te skuif.
Die Italiaanse priester het rustig geantwoord
dat hy aangesê is waar hy die kapelaan níe mag begrawe nie.
Niemand het egter vir hom gesê dat hy nie later die heining mag skuif nie!

Nuwe mense skuif heinings.
Nuwe mense skuif grense.
Wanneer jy nuut vir Christus lewe,
dink jy ook op ‘n nuwe manier oor ander mense!

Ernest