Iemand het gesê die Here fluister.
As ons nie luister nie, praat Hy harder.
As ons nog nie luister nie, roep Hy.
Later kan ons nie anders as om Hom te hoor nie.
Sy stem word net harder en harder,
deur wat in ons lewens gebeur.

Spreuke 3:11 sê jy moet dit nie verontagsaam wanneer die Here jou reghelp nie.
Moenie jou verset wanneer hy jou teregwys nie.

Hoekom het ons eers “slegte weer” en probleme nodig voordat ons luister?
Hoekom luister ons nie reeds wanneer ons die Gees van die Here hoor fluister nie?
Ons geestelike groei kom eers wanneer ons onder druk is!
Ons neem nie dit wat regtig saakmaak ernstig op nie,
totdat iets dramaties gebeur.

Sekere woestynplante se sade moet eers deur stormweer onder druk kom,
voordat hulle ontkiem.
Die harde buitewand van die saadpeul ,
moet deur verspoellings teen rotse gekraak word.
Water word dan deur die krakies in die saadwand opgeneem,
en die saad ontkiem en groei.

Soms is Christene net soos hierdie sade.
Ons moet wakker geskud word.
As’t ware “teen rotse” gestamp word.
Hoeveel mense kan nie hiervan getuig in hul lewe nie!
Ons moet eers in stormweer beland en krake opdoen,
voordat ons ontkiem en groei.
God laat toe dat ons hierin beland ter wille van ons eie beswil.
So kom die lewende water van sy Woord in ons lewe in,
en geestelike groei vind plaas!
Ons word reuse bome wat vrug dra!
Vrug wat hou!

Ernest