Selfs wetenskaplikes, wat daarvoor bekend is dat hul feite wil openbaar,
kan die waarheid of feite manipuleer.
‘n Studie oor alkoholiste is byvoorbeeld gemanipuleer om uitkomste te verseker.
Daar is beweer dat persone wat eens aan drank verslaaf was,
weer kan begin drink, sonder om alkoholiste te word.
Navorsing het later getoon dat dit nie korrek is nie.
Godsdienstige leiers, meer nog as wetenskaplikes,
kan net so maklik die waarheid manipuleer.
Hulle maak dan valse bewerings asof dit die waarheid is.
Jeremia het al bewys dat priesters, profete en predikers,
die mense met valshede mislei.
Hulle het vir die mense vertel wat hulle graag wil hoor.
Hulle boodskap van hoop en vrede was alles leuens.
In Jeremia 6:13 sê hy:
“Almal, selfs profete en priesters,
is uit op bedrog.”
Paulus waarsku ons ook hierteen.
In 2 Timoteus 4:3 sê hy daar sal ‘n tyd kom wanneer
die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie.
“Hulle sal hulle eie begeertes volg,
en vir hulle leermeesters bymekaarmaak,
wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.”
Vers 4 sê hulle sal die waarheid nie wil hoor nie,
en hulle tot verdigsels wend.
Daar is selfs mense wat deur leuens geld maak uit die godsdiens!
Paulus sê in 1 Timoteus 6:5:
“Hulle dink dat die godsdiens iets is om geldelik wins mee te maak.”
Nog erger, hulle dring selfs in huise in en saai verdeeldheid!
Hy sê in 2 Timoteus 3:6 :
“Party van hulle dring in die huise in en kry liggelowige vroue…..
in hulle mag…..”
Wat moet ons doen?
Paulus sê in 2 Timoteus 4:5:
“Maar bly jy in alle omstandighede nugter…
Hy sê in hoofstuk 3:14-15:
“Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo.
Jy weet tog wie jou leermeesters was,
en jy ken van kleins af die hielige Skrif.”
Lees die Woord en weet so wat die waarheid is.
Dit sal jou laat onderskei wat vals is.
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om
in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry,
verkeerdhede reg te stel….” 2 Tim. 3:16.
Moenie dat elke godsdienstige leier,
wat êrens soos ‘n paddastoel saam met ‘n kerk opskiet,
jou op sleeptou neem nie!
Moenie net wil hoor wat vir jou aangenaam is nie.
Of wat jy graag wil hoor nie.
Moenie net aanneem dat enige Christelike leier die waarheid praat nie.
Toets hulle boodskappe aan die hele openbaring van God is sy Woord.
Die Heilige Gees, en die Woord, en medegelowiges, sal jou wys op misleiding.
Soek en leef die waarheid.
Ernest