In Markus 7:14-15 lees ons hierdie belangrike woorde:
“Daarna roep Jesus die skare weer na Hom toe en sê:
“Julle moet almal luister en probeer verstaan wat Ek nou gaan sê.
Wat van buite af in jou ingaan, kan jou nie onrein maak nie;
Wat uit jou gaan – wat jy sê en doen – dít is wat jou onrein maak.”
Baie van ons dink, soos die Fariseërs,
dat God ons sal aanvaar op grond van ons uiterlike vertoning.
Jesus sê hier dat God jou liefde soek,
wat gesien kan word in ‘n lewe waar die uiterlike met die innerlike klop.
So ‘n lewe begin met die besef oor hou God regtig oor joú voel en dink.
Maar ook hoe Hy oor ander voel en dink!
Sy onvoorwaardelike liefhê en aanvaarding van almal.
Juliana van Norwich het gesê:
“What God most wants, is to see you smile,
because you know how much God loves you.”
Vir só ‘n God wil jy met die hulp en krag van die Heilige Gees ánders lewe!
Wanneer jy besef dat God in jou glo,
kan jy nie anders nie as om opreg te wil lewe!
Dit is om die Gees toe te laat om die beeld van God in jou wakker te maak.
Om met blydskap te leef, begin met opreg te leef.
En opreg te leef, begin met opreg lief te hê.
En opregte liefde, begin wanneer jy besef hoé lief God joú werklik het!
In haar boek, Amazing Grace, vertel Kathleen Norris hoe sy op ‘n lughawe
na ‘n baba se gedrag gekyk het.
Elke keer as die baba tussen al die beelde ‘n mens se gesig gesien het,
maak nie saak hoe die gesig gelyk het nie,
dan het die baba met absolute genot gereageer.
Die vaal vertrekhek op die lughawe het ‘n poort na die hemel geword!
Kathleen vertel hoe sy skielik sprakeloos verwonderd geraak het.
Sy het besef dat God ook so na ons kyk!
Hy staar in ons gesigte en in ons harte, sodat Hy verheug kan word.
Sê Juliana van Norwich verder:
“The greatest honor we can give to God,
is to live gladly because of the knowledge of His love.”
Dit is wat van binne van jou af uitgaan – wat jy sê en doen – wat saakmaak!
Dit is wat jou rein of onrein maak, sê Jesus.
Ernest