In Lukas 7 lees ons hoe Jesus ‘n jong man uit die dood opgewek het!
Vers 15 sê:
“Toe het die dooie seun regop gesit en begin praat!
En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.”
Dit is ‘n merkwaardige woord:
“En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.”
Jesus het in die eerste plek hierdie vrou raakgesien,
nie die dooie seun nie.
Hy sien haar gebroke hart.
Hy kyk verby haar gesig tot in haar hart.
Vers 13 sê Hy het haar innig jammer gekry.
Dit is ook so met ons.
Maar ons leef dikwels met maskers in hierdie wêreld.
Dit help ons om te oorleef, te “survive.”
Maar die Here kyk verby ons maskers,
en het ons lief in ons gebrokenheid.
In die musical “Godspell”,
gaan dit oor Jesus en sy dissipels wat bymekaar is.
Al die dissipels het ingekleurde “clown” gesigte.
Jesus neem dan ‘n emmer water, ‘n doek en ‘n spieël.
Hy gaan na elke dissipel toe, en was sy “clown”-gesig af.
Hy hou dan die spieël op sodat elkeen homself kan sien,
net soos hy werklik is.
Dan omhels Hy elkeen….
Hulle hoef nie vals gesigte te dra nie.
Hulle hoef nie hul tekortkominge en pyn weg te steek nie.
Jesus het hulle lief en aanvaar hulle, net soos hulle is!
Hy wil juis iets aan elkeen se werklike situasie doen!
Dit is ook die ware verhaal van die weduwee van Nain.
By hierdie weduwee en moeder gebeur dieselfde as in “Godspell”.
Jesus sien haar raak.
Jesus sien jou raak!
Jesus ken ons worsteling en sien ons agter ons maskers,
waar die wêreld ons nie sien nie.
Goddank!
Hy was ons gesigte skoon.
Laat ons onsself sien.
Wys sy liefde vir ons net soos ons is,
en genees ons onseker en ons seer….
Ernest