Is jy sensitief genoeg om die nabyheid van God se koninkryk te ervaar?
Moenie haastig verder lees nie.
Dink weer mooi:
Is jy sensitief genoeg,
om die nabyheid van God se koninkryk te ervaar?
Matteus 10:7-10 het Franciscus van Assisi (1182-1226) se lewe radikaal verander!
“Gaan verkondig: “Die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
“Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf duiwels uit.
Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.
Moenie vir goud of silwer of koper in julle beursies sorg nie,
En moenie vir die pad ‘n reissak aanskaf,
of nog ‘n kledingstuk of skoene of ‘n stok nie.
‘n Arbeider is tog geregtig op onderhoud.”
Voordat hierdie radikale woorde van Jesus Franciscus se lewe radikaal verander het,
was hy maar ‘n “ladiesman” wat vroue aan sy voete gehad het.
Hy was boonop ook ryk uit ‘n ryk familie.
Maar op 20 jarige ouderdom, nadat hy gevange geneem is,
het hy afstand gedoen van sy droom,
om ‘n ridder in die kruistogte te word.
Hy het ‘n visie van Christus gekry om sy kerk te herbou.
Sy lewe was nou om Christus te bekoor,
en vroue te lei om deur Christus bekoor te word.
Hy het alle mense gelei om Christus te volg!
Hy het besluit om self te leef soos Matteus 10:7-10 voorstel.
Franciscus het sy Franciscaanse orde gestig,
en hulle het gefokus op die armes en siekes,
die stukkendes, en hulle wat seer het,
en selfs vir die natuur gesorg.
Hy het wêreldwyd bekend geraak vir sy gebed:
“Here, maak my instrument van U vrede.”
Is jy ‘n instrument van Jesus se vrede?
Dit is wat sy koninkryk gebring het: Sy vrede!
Gejaagde besigwees is ons leefstyl.
So leef ons al verder van die koninkryk af weg.
Daar is ‘n dringendheid in Jesus se woorde….
Gaan leéf dit, dat die koninkryk hiér is!
Is jy sensitief genoeg,
om die nabyheid van God se koninkryk te ervaar?
Ernest