In Lukas 15 lees ons die merkwaardige woorde van Jesus:
“As jy 100 skape het en een het verdwaal en verlore geraak,
sal jy nie die 99 ander net daar laat staan,
en die een gaan soek totdat jy hom kry nie?
En dan sal jy hom met blydskap op jou skouers huis toe dra.
Net so sal die hemel blyer wees oor een sondaar wat tot inkeer kom.
In Johannes 10 vind ons die volmaakte Herder!
Vers 11 sê:
“Ek is die goeie herder.
Die goeie herder lê sy lewe af vir sy skape.”
Net voor dit, sê Jesus in vers 10 dat Hy as herder gekom het,
sodat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed!
Op die Skotse hoogland dwaal skape gereeld af.
Hulle spring teen rotsagtige dele af, om by soet en groen gras uit te kom.
Dan kan hulle nie weer daar uit nie, en ook nie verder teen die afgrond af nie.
Hulle is vasgevang, en blêr aanhoudend.
Hulle bly dan ‘n paar dae daar totdat die gras opgevreet is.
Hulle kry water van die hoë neerslae van dou, en sagte reën.
Die herder los hulle totdat hulle baie swak is.
Helpers bind ‘n tou om die herder.
Dan sak die herder met die tou af, en red hulle.
Hoekom gaan hy nie vroeër nie?
Die skape skrik, of raak angstig, sit hulle teë, en spring van die afgrond af.
Wanneer hul swak is, is die redding maklik.
Mense leef ook so op die afgrond.
Ons spring agter die groen gras aan.
Wanneer ons dan in die moeilikheid is, “blêr” ons:
“Waar is God? Waar is Jesus, die Goeie Herder?”
In die lig van bogenoemde woorde, uit die Woord, kan ons sê:
Hy is altyd by die wat Hy al gevind het.
Hy is op ‘n besondere manier by die wat Hom soek, en wat Hy besig is om te vind.
Hy is spesiaal by die teenwoordig wat Hom nie meer soek nie, omdat Hy hulle steeds wil vind!
Hy sal jou soek totdat Hy jou vind!
Die Here is my Herder!
Aan sy liefde is daar geen einde nie!
Ernest