In Markus 8 lees ons van vers 22 af hoe Jesus in Betsaida ‘n blinde gesondmaak.
Jesus vra: “Kan jy iets sien?”
Die man antwoord dan in vers 24:
“Ja, ek sien mense, maar hulle is baie dof.
Hulle lyk soos bome wat rondloop.”
Jesus het toe weér sy hande op die man se oë gesit,
dit het begin fokus, en sy sig het volkome herstel.
Hy kon toe alles duidelik sien.
Merkwaardig dat Jesus weér sy hande op die man se oë plaas.
Ons sien so min van wat ons regtig moet sien.
Ons sien ook mense, soos hierdie man.
Maar hulle is ook maar vir ons soos bome.
Hulle is baie dof.
Hulle lyk maar soos bome wat rondloop.
Ons geestelike sig is dof!
Ons sien mense as “dinge”,
in plaas van mense wat na die beeld van God gemaak is.
Jesus moet as’t ware weer sy hande op ons oë sit,
sodat ons begin fokus en ons duidelik kan sien wat ons moet sien.
In hierdie wonderwerk kom die blinde man se sig in fases terug.
Daar is moontlik die simboliese waarheid hierin,
dat geen mens God se goedheid, en waarheid,
en mooiheid, onmiddelik sien nie.
Om Jesus te volg, is ‘n lewenslange reis waarin jy daagliks groei,
om beter en beter te sien!
Soos ons die sterre nie meer sien nie,
en dan een Karoo-aand na ons asems snak as ons dit weer sien,
so is dit met die wonders van God,
en die mense rondom ons, wat ons nie meer sien nie.
Laat Jesus weér sy hand op jou plaas,
sodat jy duidelik kan sien!
Ernest