Jesus het gesê die wat uitgeput en oorlaai is moet na Hom toe kom.
Hy sal hulle rus gee.

In Matteus 6:33 sê Hy so in Die Boodskap:
“Stel God se koninkryk eerste.
Doen net daardie dinge wat vir Hom belangrik is.
Hy sal vir die res sorg.”

Die lewe gaan jou uiters moeg maak, as jou prioriteite nie reg is nie.

Sonder om nou lank te redeneer oor wat vir Hom belangrik is,
moet ons eenvoudig ons primêre prioriteite uitsorteer.
Ons weet mos sekere dinge staan vas,
en is vir die Here ononderhandelbaar.
Jy sal gou ‘n lysie daarvan kan maak.
Die vraag is:
Hoe ‘n belangrike rol speel daárdie dinge in jou lewe?
Nie wat jy daaroor dink nie,
maar hoe dit in jou lewe grondvat!

Ons is bekend met die bekende beeld van prioriteite:
Ons lewe is soos ‘n houer met beperkte inhoud.
Gooi eers die grootste klippe in die lewens houer,
sodat hulle plek kan kry in jou lewe.
Dit is die heel belangrikste, God se koninkryk.
Dit wat God eerste stel.
Gooi dan die kleiner klippe in.
Dinge wat minder belangrik is,
sodat hulle tussen die groot klippe kan inpas en insink.
Gooi dan die sand in.
Nog minder belangrike dinge.
Skud die houer, en daar sal baie sand ingaan.
Baie klein dingetjies wat ook vreugde gee.
Gooi dan die water in.
Nog minder belangrike dinge.
Tog sal daar baie water ingaan.
Daar is ook lewensvreugde in die water.
Jy sal werklik ‘n vol lewe hê,
met baie vreugdes, groot en klein!

Maar as jy eerste die sand ingooi, en dan die kleiner klippe,
en dan die water,
sal daar nie plek wees vir die belangrikste in jou lewe nie.
Jy sal nie die groot klippe inkry nie!
Dit wat vir God die belangrikste is!

Stel God se koninkryk eerste.
Doen dit wat vir Hom die belangrikste is.
Moenie daaroor bly redeneer nie.
Kry eenvoudig jou prioriteite reg.
Jy weet wat dit moet wees.
“Just do it”

Ernest