Ons lewe in ‘n rowwe wêreld.Dit is eintlik al ‘n cliché om dit te sê.
Die media se prentjie is eerder duisternis as lig. Geweld, misdaad, korrupsie,
misbruik van mense…….die lysie gaan aan en aan.
Wat is die oorsaak?
Anne Frank wil in haar aangrypende dagboek
nog vashou aan die goedheid van die mens.
Is die mens inherent goed?
Geleerdes sê kulturele ontsporings is die oorsaak van kwaad by die mens.
Verstedeliking. Ekonomiese frustrasie. Beskikbaarheid van wapens.
Die invloed van televisie geweld.
Tog is dit die mens wat dit alles skep.
Ander sê dit is ideologië. Politiek. Ideale. Goed wat mense op sleeptou neem.
Goed wat ‘n gewone mens op die oorlogspad plaas.
Maar die mens skep ook dít alles.
Bioloë sê ons gevaarlikste wapen is die brein.
Daarom is ons deurdrenk van kwaad.
Jy betrap jouself gedurig dat jy dink en doen,
wat jy nie wil dink en doen nie!
Lyall Watson skryf in “Dark Nature” die kwaad is onontkombaar!
Dit is soos die “Black Hole” van Stephen Hawking.
Dit het ‘n onweerstaanbare suigkrag wat jou eenvoudig insuig!
Dieper en dieper in die duisternis in.
Howard Bloom sê die rede vir kwaad is dat die natuur self dit nie verafsku nie.
Die natuur self is geweldadig.
Leeus maak hul eie welpies dood. Die een voël eet die ander se kleintjies in hulle nes.
Terwyl die mens so gewoon lyk is hy inderdaad ‘n handlanger van die Bose.
Jou gewone buurman lei twee lewens, waarvan jy net een ken……… En jý?
Die Bybel sê ons het almal ontaard!
Romeine 3:10-12:
“Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie.
Daar is nie een wat verstandig is nie,
daar is nie een wat na die wil van God vra nie.
Almal het afgedwaal, almal het ontaard.
Daar is nie een wat goed doen nie,selfs nie een nie!”
Mens voel jy wil jou hande in die lug gooi uit hooploosheid.
Maar God kom red! Hy kom gryp radikaal in!
Hy stuur sy Seun in hierdie boosheid van ons in,
om ons uit hierdie boosheid weg te ruk.
Kolossense 1:13 sê:
“Hy het ons uit die mag van die Aduisternis weggeruk,
en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.”
Vers 14 sê dan verder:
“Deur die Seun het ons die verlossing verkry,
die vergewing van ons sondes.”
Hy kom haal die kliphart uit ons uit en gee ons ‘n hart wat voel,
en seerkry, en bloei…….harte wat weer liefhet.
Goddank dat ek weer kan lewe!!
Ernest