Mense trek wêreldwyd al hoe meer terug in hul kokonne.
Dit voel vir hulle veiliger as om na buite te lewe.
Nie net sekuriteitsheinings en alarmstelsels in motors nie.
Ook kossoorte ,“want dit gee kanker.”
Sekere skole, “want kinders word verkeerd geleer.”
Vrese op vrese waarin ons leef.
Baie van die vrese is geregverdig!
En ons oorleef omdat ons tussen gevare kan onderskei.
Maar dit is die een kant.

Die ander kant is dat ons moet léwe!
Wie nie waag nie, wen nie!
As jy niks kan aanraak-hoor-kyk-of proe nie,
hoe sal jy nog kan asemhaal en die lewe vier?
As ons in alle opsigte veilig en risiko vry wil lewe, sal ons versmoor.
Niks sal gebeur nie.
Geen nuwe geboue, vliegtuie wat opstyg, of mediese deurbrake nie….
Wetenskap en tegniek sal gaan stilstaan. Dinamies menswees sal kwyn.
Natuurlik moet ons nie dwaas raak nie. Toe oë oor die straat loop nie.
Dit gaan nie oor blinde waagmoed nie. Ook nie oor onbeplande optrede nie.
Of roekelose eksperimente nie.
Maar die lewe roep om waagmoed! Aandurf van die onbekende.
Aanhoudende soeke na nuwe weë, beter medisyne, veiliger vliegtuie…
Wie nie waag nie, wen nie.
So vind die mensdom baat by grense wat oorgesteek word.
Marie Curie het jare lank navorsing oor radium gedoen.
So is deurbrake gemaak vir die latere wonder van radioterapie en X-strale.
Marie is dood weens haar blootstelling aan hierdie gevaarlike stof.
Sonder haar waagmoed, sou miljoene ander mense deur die loop van jare gesterf het.
Dokters sou sonder hierdie baie belangrike diagnostiese instrument moes klaarkom.
Sy het gewaag, en haar lewe geoffer in diens van die mensdom.

Die Bybel is vol van groot waagmoed!
Abraham trek uit die bekende, die onbekende in.
Israel trek weg van Egipte se vleispotte, die woestyn in.
Jesus verlaat die hemel, en kom leef in die armsalige omstandighede van die aarde.
Nie roekelose spel met die lewe nie, maar waagstukke in geloof.

Jesus stuur sy dissipels met hulle nuwe lewensbeskouing die wêreld in.
“..soos lammers tussen wolwe in” sê Lukas 10:3.
Die risiko is daar dat hulle verskeur kan word.
Wat ‘n waagstuk!
Maar moes hulle nou in hul kokonne terugtrek?
Moes hulle in Jerusalem gaan sit, en die wêreld van die Evangelie beroof het?
Maar Jesus sê ook vir sy dissipels:
“Wees versigtig soos slange en opreg soos duiwe.”
Paulus sê in Filippense 1:14 hoe die gelowiges dit al hoe meer gewaag het,
om die woord van God onbevrees te verkondig!

Die lewe saam met die Here roep om waagmoed!
Wie nie waag nie, wen nie!

Ernest