‘n Slim man vra in Lukas 10:25 vir Jesus:
“Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
Die vraag is net so belangrik vir ons tyd.
Soms wil die sinloosheid van so baie dinge jou oorweldig.
Hierdie vraag kan tog ook so gevra word:
“Hoe gee ek sin aan my bestaan?
Hoe maak ek die lewe die moeite werd?”
Hoe jaag ek nie net wind nie?

Selfs Chris Evert, die baie bekende wêreldberoemde tennisspeelster,
het eenkeer moedeloos gesê:
“Surely, there must be more to life than tennis.”

Jesus se antwoord bevredig nie die wetgeleerde nie.
Hy is al moeg om die godsdienstige reëls van sy tyd na te jaag.
Alles klink so geyk en vervelig.
Baie mense voel ook vandag so in hul godsdiensbeoefening.
Godsdiens gee nie sin aan die bestaan nie.
Dieselfde dinge word oor en oor gesê.

Dan vertel Jesus die verhaal van die man wat langs die pad oorval en beroof is.
Hy het baie seergekry en ‘n priester , Leviet en Samaritaan loop oor sy pad.
Twee moontlikhede om uit te kies.
Die eerste: Jy kan soos die priester of Leviet verbygaan.
Ironies, juis as gevolg van godsdienstige reinheidswette
Van hulle word gesê dat hulle die man in nood gesien het, maar hom vermy.
Jy kan die krisisse om jou sien, hongeres, werkloses, haweloses, beseerdes, siekes.
Jy kan met goeie redes die klop aan jou deur ignoreer.
Die veiligste manier van oorlewing is tog…….onbetrokkenheid!
Nou-nou is jy ook in die moeilikheid.
En jy kan rustig voortgaan met joú godsdiensbeoefening.

Die tweede moontlikheid:
Jy kan die keuse van die Samaritaan uitleef.
Intense betrokkenheid by jou medemens.
Hoe? Wie is jou medemens?
Volgens Jesus is dit die een wat op daardie oomblik jou nodig het.
Jou olie, jou wyn, jou donkie en jou beursie, jou tyd, jouself.
Dit kan jou kind wees wat tyd vra. Jou eggenoot wat liefde vra.
Jou buurman wat hospitaal toe gaan. Die boemelaar wat aan jou deur klop.
Enige een op die mees ongemaklike tyd en plek!

Jesus sê vir hierdie man dat jy sin in jou bestaan vind as jy betrokke raak.
Jy moet dit aan die lewe waag. Daár dien jy die Here!
Die priester en Leviet mis die belangrikste in die lewe…….
Om God in en deur jou naaste te dien!

Ernest