Gasvryheid!

Romeine 12:13 sê:
“Help die medegelowiges in hulle nood,
en lê julle toe op gasvryheid.”
Om jou toe te lê op iets,
beteken tog om regtig moeite daarmee te doen.
Jou gesindheid in gasvryheid moet ook uit liefde kom.
Dit help nie jy doen baie “uit gasvryheid” vir mense,
en kla dan daaroor nie.
In hierdie opsig sê 1 Petrus 4:9:
“Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.”

Gasvryheid is ‘n kenmerk van ‘n Christen gelowige.
Omdat God ons laat tuis voel, laat ons ander ook tuis voel.

Gasvryheid is volgens die Jode ‘n tipe erediens,
‘n spesiale vorm van aanbidding.
Jy aanbid God terwyl jy ander mense tuis laat voel.

Een ou katolieke priester het gesê:
“Ek het uiteindelik geleer om mense te aanvaar vir wie hulle is.
Wie hulle ookal is, ‘n prostituut, ‘n minister, dit is alles dieselfde vir my.
Maar soms sien ek ‘n vreemdeling wat padlangs na my toe kom,
En dan sê ek: “O, Jesus, is dit al weer U?”
Deur gasvry teenoor ander mense te wees, onthaal jy eintlik vir Jesus self.
Hebreërs 13:2 sê:
“Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees,
het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het,
engele as gaste gehuisves.”

Ons leef ‘n baie belangrike getuienis vir die Here uit deur gasvryheid.
Daarom kan ons soos Lidia in Handelinge 16:15 sê:
“Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo,
kom gaan by my tuis.”

Gasvryheid behoort geen ander kwaliteit te hê,
as die liefde waarmee God óns ook in sy teenwoordigheid ontvang nie!

Ernest