Romeine 12:1 sê:
“…Gee julleself aan God as lewende en heilige offers
wat vir Hom aanneemlik is.”
En dan sê die vers verder hierdie merkwaardige woorde:
“Dit is die wesentlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.”
Wanneer jy jou 100% vir die Here gee,
het jy die sin van die lewe ontdek.
Die wesentlike van jou verhouding met die Here!
Die wesentlike is om jouself te gee, volledig.
Nie om te ontvang nie.
Jy is nie in verhouding met die Here om te kry nie,
maar om te gee!
So geniet jy boonop die lewe ten volle.
Dan het jy die lewe, en dit in oorvloed!
Om jou 100% te gee,
beteken om regtig te doen wat jy sê jy glo!
Om Jesus in alles en met alles te vertrou.
Daarom doen jy wat jy glo!
Mishima het gesê:
“To know and not to act, is not yet to know.”
Met sy troonbestyging het Constantius agtergekom
daar werk baie Christene in sy hofhouding.
Met ‘n wet wat hy uitgevaardig het,
is hulle beveel om hulle Christenskap prys te gee,
of hulle werk te verloor.
Baie het dadelik bedank omdat hulle dit nie wou doen nie.
Sommige het egter uit vrees vir hulle lewe hul Christenskap afgesweer.
Toe die koning oortuig was waar almal se lojaliteit lê,
het hy almal afgedank wat gemaak het soos die wet sê!
Hy het die wet tot niet verklaar,
en weer die werkers teruggeneem,
wat ter wille van hul Christenskap bedank het!
Sy rede was:
“Hulle wat uit vrees nié aan Christus, die Koning van alle konings,
getrou kan bly nie, sal verseker ook nie aan my getrou bly nie.”
Dit is álles of niks.
Daar is nie ‘n middeweg vir die Here moontlik nie.
Jesus sê in Openbaring 3:16 hy spoeg lou Christene uit sy mond uit!
Gee jouself volledig!
Ernest