“Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê:
“Om te gee maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”
Dit lees ons in Handelinge 20:35.
Ons dink dikwels aan materiële dinge in terme van gee.
Maar dit gaan in die eerste plek tog om die gee van jouself aan mense.
Dit is waar “dien” inkom, om te gee deur te dien!
William Booth het gesê:
“Die evangelie bestaan uit seep, sop en saligheid.”
Hy was die stigter van die Salvation Army.
Hy het besef daar word te min vir die armes gedoen.
Hy het tussen hulle begin werk en leef.
Hy het ook besef die armes vier Kersfees deur hulle dronk te drink.
Hy het besluit dat daar met Kersfees vir elke arme ‘n Kersete moet wees.
Saam met sy vrou, Catherine, het hy ‘n sopkombuis begin.
“Niemand kan Jesus aanneem op ‘n leë maag nie”, het hy gesê.
Die armes kon enige tyd van die nag of dag vir hulle kom sop haal!
Teen 1878 was daar 81 plekke waar die armes kon gaan vir sulke hulp.
Daar was 127 evangeliste wat saam met William en Catherine gewerk het.
Daar is ook met nagskuilings begin vir haweloses.
Hulle het toe besluit om dit die Salvation Army te noem.
Met William Booth se begrafnis het selfs die koningin dit bygewoon.
Langs die koningin het ‘n vrou gesit wat voorheen ‘n prostituut was.
Die koningin het gevra waarom sy die begrafnis bywoon?
Haar antwoord was:
“Omdat hy vir mense soos ek omgegee het.”
William en Catherine, en die Salvation Army, gee om.
Om te gee en te dien, is om regtig om te gee!
Gee jy regtig om?
Gee jy en dien jy?
Wat gee jy?
Hoe dien jy?
Gee jouself!
Ernest