“Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie,
maar moet met die daad bewys word,
en dan in opregtheid.” 1 Johannes 3:18

God gee vir ons om met liefdesdade!
Daarom moet ons omgee ook met dade gepaard gaan.

Moeder Teresa het dit met haar hele lewe gewys.
Sy het onder die armste van arm mense in Kalkutta in Indië gedien.
Die leuse van haar sendingstasie was:
“Laat elke daad van my iets moois wees vir God.”

Sy het met deernis siekes, melaatses, eensames en sterwendes versorg.
Sy het hul wonde gewas en versorg, hul hande vasgehou as hul sterf.
Sy het beklemtoon dat iemand hulle liefhet.

Eendag het sy ‘n sterwende uit ‘n afvoersloot gered.
Sy het hom na haar huis geneem en versorg tot hy gesterf het.
Sy laaste woorde aan haar was:
“Ek het soos ‘n dier in die strate gewoon.
Nou kan ek soos ‘n engel sterf.”

Moeder Teresa en haar helpers het met haar dood op 5 September 1997
ongeveer 54 000 hawelose mense in Kalkutta versorg,
en meer as 23 000 in liefde laat sterf, met iemand wat omgee by hulle.

In 1979 het sy die Nobelprys vir vrede gewen en gevra dat die 7000 dollar
vir die onthaal eerder aan armes gegee word sodat hulle sal weet hulle is spesiaal.

Oor haar toekomsplanne het sy gesê:
“Ek neem een dag op ‘n slag.
Gister is verby, môre het nog nie gekom nie.
Ons het net vandag om Jesus se liefde met ander te deel.

Deel vandag nog die Here se liefde met ander, met jou dade!
Jou liefde moenie net lippetaal wees nie.

Ernest