Tien melaatses roep hard:
“Jesus, Here, ontferm U oor ons!”
Toe Jesus hulle sien, sê Hy in Lukas 17:14:
“Gaan wys julle vir die priesters.”
Op pad daarheen het hulle gesond geword.
Verse 15 en 16 sê:
“En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is,
omgedraai en God hardop geprys.
Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank…”

Tien genees. Een sê dankie!
Hoe dankbaar is jy?
Van die eerste woorde wat kinders leer is asseblief en dankie.
Dankbaarheid is iets waarvan niemand te veel kan gee nie.
Dankbaarheid is die geheue van jou hart.

In ‘n Indiese dorpie is twee jongmanne vir misdaad in die tronk toegesluit.
Hulle kon slegs uitkom as hul boete betaal is.
Die een man se ryk familie het vir hom betaal en hy is vrygelaat.
Die ander man was die seun van ‘n weduwee.
Sy het elke dag stene gaan bewerk om hom uit die tronk te kry.
Sy het elke dag ‘n bietjie geld verdien.
Haar hande was later stukkend en bloedbelope.
Maar sy het volhard om haar seun vry te kry.
Uiteindelik was hy vrygekoop.

Die seun het gesê dat hy nooit ooit weer misdaad sou pleeg nie.
Hy sou ondankbaar wees teenoor sy ma.
Dit het sy ma se bloed gekos om hom vry te koop!

Dit het ook Jesus se bloed en dood gekos om ons vry te koop!
Hoe kan ons so ‘n gebrek aan dankbaarheid in ons lewens hê?

“The most important component of happiness, by far -
there isn’t a close second – is gratitude.” (Dennis Prager)

Leef dankbaar!

Ernest