Ons moet met baie meer dankbaarheid leef,
juis ten opsigte van die dinge wat ons nooit kan verloor nie.
Ons sê dikwels vir God dankie vir die dinge van die lewe wat wonderlik is,
maar wat ons net so maklik kan verloor.
Goeie gesondheid is ‘n seën, maar dit kan môre weg wees.
Familielede en vriende is ‘n seën, maar hulle kan môre weg wees.
Besittings is ‘n seën, maar dit kan môre weg wees.
Maar dink nou aan die lewensbelangrike dinge waarmee God ons seën,
en wat ons nooit kan verloor nie!
So sê Romeine 8:38-39 byvoorbeeld dat geen dood of lewe,
of teenswoordige of toekomstige dinge,
of enige iets anders ons kan skei,
van die liefde van God wat daar is in Christus Jesus nie!
Die heel taaiste dinge in die lewe,
kan nie die belangrikste dinge van die lewe by ons wegvat nie!
Lees maar Romeine 8:35-39!
Niks!...niks sal ons ooit kan skei van die liefde van God,
wat daar is in Christus Jesus ons Here nie.
Dink maar net aan ‘n paar dinge wat ons nooit kan verloor nie:
Die ewige lewe – Johannes 10:28.
Vergifnes – 1 Johannes 1:9.
God se teenwoordigheid by jou – Hebreërs 13:5.
Toegang tot God deur gebed – Hebreërs 4:15-16.
God se trou teenoor jou – 2 Timoteus 2:13.
Leef met baie groter dankbaarheid,
juis ten opsigte van die dinge waarmee God jou seën,
en wat deur niks van jou weggeneem kan word nie!
Dit gee jou ook soveel meer perspektief,
en juis ook meer dankbaarheid,
ten opsigte van die dinge en mense in jou lewe wat tydelik is.
Ernest