Filippense 4: 13 sê ons is tot alles in staat deur die Here wat ons krag gee.
Hierdie teks is nie beperkend nie, maar sluit vergesigte oop.
Glo jy dit regtig?
Dat jy tot alles in staat is deur die Here wat jou krag gee?

Baie keer dink ons iets is te goed om waar te wees.
Kan die Here dit regtig vir mý bedoel?
Dan gryp ons dit nie aan nie,
glo nie daarin nie,
en begin nie met geloof daaraan werk nie.
Ons dink nie ons is daartoe in staat nie, en vergeet
dat ons tot alles in staat is deur Christus wat ons krag gee.

Dit is soos die padda wat in ‘n put gebore is.
Hy het tevrede daar gewoon en gedink dit is die beste lewe.
Op ‘n dag het hy die lig bokant die put raakgesien.
Hy het nuuskierig opgeklim en die dam ontdek,
wat baie groter as die put was!
Hy het verder gekyk, en verder beweeg, en die meer ontdek,
wat baie groter as die dam was.
Hy het nog verder gekyk, en verder beweeg,
en die oseaan bereik!
Skielik het die padda ontdek hoe beperk sy denke was.
Hy het gedink die put is die volheid van die lewe.

Ons leef dikwels in ‘n put.
Kyk op, en sien die lig!
Kyk verder, beweeg verder, en ontdek die dam, meer en oseaan!
God bedoel soveel meer vir ons, as waarmee ons so maklik tevrede is.
Dan groei ons so stadig, en leef geestelik so arm……

God se wil en droom vir jou lewe is soveel groter as wat jy ooit kan dink!
Vertrou Hom daarvoor.
Kyk verder en beweeg verder!
Saam met Hom!

Ernest