God wil jou regtig seën met sy guns.
Psalm 8:6 sê God het die mens “met aansien en eer gekroon.”
Eer kan hier ook vertaal word met guns.
God kroon jou met guns.
Guns beteken om hulp te ontvang.
Om spesiale voordele te geniet.
Om voorkeurbehandeling te ontvang.

God wil jou seën, begunstig, bevoordeel, help.
Natuurlik nie ten koste van iemand anders nie.
Dit is nie hoe ons daaroor moet dink nie.
Ons verdien niks meer as enige iemand anders nie.
Ons verdien niks!
Alles, al God se guns, is genade!

God wil aan jou guns bewys, bloot omdat Hy jou hemelse Vader is,
omdat Hy jou liefhet, en omdat jy sy kind is.
In hierdie opsig moet ons ook meer guns-bewus raak.
Ons rig ons oog op Hom in afhanklikheid.
Die guns wat ons ontvang, is nie vanweë wié ons is nie,
maar wel Wie s’n ons is!

Jy sal verseker kan getuig van God se guns in jou lewe.
Maak nie saak hoe jou omstandighede vir jou lyk nie,
leef meer bewus van God se guns.

Onthou hoe mooi die Ou Vertaling dit in Psalm 23:6 sê:
“Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe;
En ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.”

Ernest