Psalm 89:18 sê:
“Dit is ons sterkte: dat ons U guns geniet.”
Ons krag lê in God se guns oor ons.
Ons vind ook God se guns in die alledaagse.
God dra deurgaans jou beste belange op die hart.
Hy laat alles ten goede meewerk vir jou wat Hy liefhet.
Sy guns beteken nie dat jy alles kry wat jy wil hê nie.
Hy gee aan jou wat Hy weet jy nodig het.
Sien God se goedheid raak in die alledaagse gebeure rondom jou.
‘n Parkeerplek wat oopgaan.
‘n Ekstra betaalpunt wat oopmaak.
Iemand wat jou plek gee in druk verkeer.
Iemand wat jy raakloop, en lank na op soek was.
Iemand wat onverwags iets goed vir jou doen.
God wat sorg dat jy op die regte tyd op die regte plek is.
Klein dingetjies wat nie “toevallig” is nie.
Psalm 23:6 sê juis dat God se goedheid en guns regdeur by jou bly!
“U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly.”
Nie net sekere dae nie, maar elke dag.
Die Booddskap vertaal dit so:
“U sal vir my goed wees en my liefhê solank as wat ek lewe.”
Moenie verwag om aan die kortste end te trek nie.
Verwag God se guns.
Moenie verwag om net-net te oorleef nie.
Verwag God se goedheid wat jou gaan omring.
Verwag dit ook in die grootste uitdagings in die lewe.
Dink maar aan die guns wat mense soos Noag, Dawid, Rut, Josef,
en nog baie ander bybelkarakters,
in die moeilikste omstandighede van God ontvang het.
Raak al hoe meer bewus van God se guns in jou lewe.
So gaan jy groei in die bewustheid van God se teenwoordigheid in jou lewe.
Jy gaan agterkom dat dit jou sterkte is,
dat jou krag daarin lê,
dat jy God se guns geniet as sy kind!
Psalm 89:18.
Ernest