Op die gholfbaan sien mens dikwels O.B.-bordjies.
Dit is “Out of Bounce” bordjies wat sê jy is buite die speelgebied.
Wanneer ‘n gholfbal buite die speelgebied val,
word een hou by die telling bygevoeg.
Jeremia waarsku die suidelike koninkryk van Juda.
Hy sê dat hulle “out of bounce” is.
Hulle beweeg buite die grense van God se wil vir hulle.
Hulle gee nie ag daarop nie.
Om buite die grense van God se wil te wil leef is dwaas.
Dit is so dwaas soos ‘n vis wat uit die water op droë grond wil spring,
om “vry” te wees.
Die vis se lewensruimte is juis die water.
Die vis kan nie buite die water bly leef nie.
Wanneer jy buite God se grense wil leef,
beteken dit nie vryheid nie, maar dood!
Selfs die magtige oseaan het grense waaroor dit nie gaan nie.
Daarom gebruik Jeremia dit as beeld in Jeremia 5:22:
“Is julle nie bang vir My nie,
vir My wat die sand as grens vir die see gestel het?”
Tog bly die volk se hart hard en sonder berou.
Die Here dui duidelik die grense vir die mens aan,
die grense waarbinne ons lewensruimte is.
Die Here gee dit nie om ons in te perk of te frustreer nie,
maar juis sodat ons kan leef,
en ware vreugde en God se seën kan beleef.
In Deuteronomium 30:19 sê die Here:
“Ek het die lewe en die dood aan jou voorgehou……
kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.”
Bly binne die speelveld.
Moenie “out of bounce” lewe nie.
Jou lewensruimte is juis binne God se wil!
Kies dit en lewe!
Ernest