Ons Geneesheer genees

 

In Lukas 8:43 lees ons van ‘n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing ly.
“Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee,
maar niemand kon haar gesond maak nie.”
Sy het nie net fisiese siekte nie,
maar ook materiële gebrek as gevolg van haar siekte.
Sy het al alles uitgegee wat sy gehad het.
Boonop stoot die mense van die gemeenskap haar eenkant toe.
Volgens die reinheidswette van Levitikus 15:25 is sy onrein!
Hulle vermy haar.

 

Mens kan jou moeilik indink waar sy haarself geestelik en emosioneel bevind.
Sy is die skugterste pasiënt wat ooit na Jesus toe gekom het.
Sy kom van agter af nader, en raak net aan die soom van sy kleed.
Deur sy Goddelike krag genees Jesus hierdie vrou,
van die kwaal wat haar van alles beroof het.

 

Vandag gaan ons met fisiese “wonde” dokter toe.
Meestal help hulle ons om te genees.
Daar is immers vêr gevorder in die mediese wetenskappe.
Daar is baie spesialiste wat met groot kennis kan help.
Ons gaan nie met groot skugterheid dokter toe nie.

 

Maar wat van ons geestelike wonde?
Wonde soos bitterheid, onvergewingsgesindheid,
skuldgevoelens, liefdeloosheid……
Ons is baie skugter hiermee.
Bagasie waaraan ons swaar dra.
Ons gaan dikwels nie eers daarmee na Jesus toe nie.

 

Glo soos hierdie vrou dat Jesus kan en sal genees.
Haar geloof is so groot dat sy in geloof net aan die soom van sy kleed raak!
Jesus draai met groot deernis na jou toe en sê in Lukas 5:31-32:
“Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie,
maar dié wat siek is.
Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is,
tot bekering te roep nie,
maar sondaars.”

 

Moenie skugter bly nie.
Kom na die Here toe.
Ons Geneesheer genees!

 

Ernest