Ja, jy het reg gelees.
Die evangelie van Jesus Christus kan dikwels vir ons ontwrigtend wees.
Dit vra van ons dinge wat ons in ongemaklike situasies plaas,
veral ten opsigte van eie belang.
Neem byvoorbeeld Lukas 7:37-38:
“Sy bring toe ‘n albaste flessie met reukolie,
en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil,
sodat haar trane op sy voete begin drup het.
Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog,
hulle gesoen en met die reukolie gesalf.”
Die eerste gesigspunt is die van die gaste en gasheer:
Hoe ontwrigtend moes dit nie vir hulle wees nie.
Hierdie vrou met die sondige lewe, sê vers 37.
Wat ‘n verleentheid skep sy nie!
En dit by ‘n ete ter ere van Jesus.
Boonop is sy ‘n ongenooide gas.
Sy huil in die geselskap, en haar trane drup op Jesus se voete.
Sy droog dit met haar hare af, en soen dit.
En sy mors nog duur reukolie op sy voete ook.
Die Fariseer gasheer, Simon, moes regtig omgekrap wees. Verse 39-40.
Die tweede gesigspunt is die van die vrou:
Met haar hartseer verlede kyk sy na Jesus.
Wat bring haar tot hier?.... as vers 37 sê sy het ‘n sondige lewe gelei.
Sy is waarskynlik gedaan, klaar, opgebruik.
Sy gee nie meer om wat enige iemand dink nie.
Sy breek deur elke tradisie en etiketreël.
Sy gaan eenvoudig tot by Jesus,
en raak selfs in haar onreinheid aan Hom. Vers 39.
Maar,… sy word vir altyd bevry van haar verlede!
Die derde gesigspunt is die van Jesus:
Alles in sy reaksie dra die boodskap
waaraan miljoene mense deur die eeue vasgegryp het.
Vir mense soos sý het Hy na die wêreld toe gekom.
In vers 48 sê Jesus vir haar:
“Jou sondes is vergewe.”
Ons hou nie van die ontwrigting wat die evangelie veroorsaak nie.
Ons planne, ons sosiale patrone, ons siening van lastige mense.
Maar Jesus tree op soos Hy optree,
en ons moet in sy voetspore volg!
Doen dit!
Volg in sy voetspore!
Groei daarin,
sodat die evangelie jou al hoe minder en minder ontwrig!
Ernest