Dink baie mooi wat jy sê, want baie stertjies word bygelas!
“Die tong het mag oor dood en lewe;
die wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.” Spreuke 18:21.
Bly veral heeltemal weg van skinderstosies!
Moenie dit praat of daarna luister nie.
Spreuke 18:8 stel dit sterk:
“Skinderstories word gretig verslind;
mense sluk dit so maklik.”
Die tong het mag oor lewe en dood.
Duisende tragedies bevestig dit.
Die tong het kinders gemaak wat hulle is.
Die tong het miljoene huwelike vernietig.
Maar, die tong het ook miljoene mense gered!
Die tong het al soveel genade oorgedra.
As gevolg van die tong het mense heel geword,
en weer geleef.
Die tong stig egter ook maklik brand.
Dit steek die vuur uit die hart en uit die hel aan.
Skinderstories doen dit.
Die enigste manier om nie sjokolade te eet nie,
is om nie die eerste happie te vat nie.
Moenie eers die papier omhulsel afskeur nie.
Skinderstories begin met die afskeur van iemand se omhulsel.
En wanneer ander dit doen moet jy ferm weier:
“Hierdie sjokolade eet ons nie. Ons weerstaan dit.
Ons neem nie eers een happie nie!”
God alleen kan die tong tem.
Daarom sê 2 Timoteus 2:16-17:
“Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy,
want die wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval,
en hulle woorde sal voortvreet soos kanker.”
Dink mooi wat jy sê.
Jou woorde kan voortvreet soos kanker!
Ernest