Spreuke 16:1 sê:
“’n Mens kan sy voornemens hê;
maar die laaste woord daaroor kom van die Here af.”
Dikwels hoor jy hoe mense sê:
“Deo volente” – As die Here wil!
DV.

 

Toe hierdie woorde van Spreuke hierbo geskryf is,
het die openbaring van God aan die mens,
nog net tot by die God van Sinai gestrek.
Die God van die Ou Testament was die God van die rokende berg,
en van die vuur en aardbewing.
Hy was die God in Wie se teenwoordigheid slegs die Hoëpriester kon kom,
en dit net een maal per jaar op die Groot Versoendag!

 

Wanneer die mens God net ken as die God van Sinai,
dan klink jou “Deo volente” anders as die van die Nuwe Testamentiese gelowige.
In die Nuwe Testament het ons God leer ken as die een wat Saggeus uit die vyeboom roep.
Die God wat die Etiopiër op die pad na Gasa raaksien, waar hy op sy wa sit.

 

Jesus maak alles nuut.
Hy maak elke Skrifwoord ryker, en gee dit sy volle betekenis.
Spreuke 16:9 sê:
“’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.”
Die Nuwe Testament gee nou volle betekenis aan “Deo volente”.
Ons het nou ook deur Christus vrye toegang tot God!
Nou is daar die versekering:
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet,
die wat volgens sy besluit geroep is.” Romeine 8:28.

 

Leef jou hele lewe bewustelik onder hierdie woorde:
“Deo volente” – as die Here wil.
DV

 

Ernest