Miga het nagedink oor wat ‘n gepaste offer is om vir God te bring.
Hy vra:
“Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan,
as ek voor die hoë God gaan kniel?
Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde?”
Dan antwoord Miga 6:6-8:
“Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor God.”
Die offer wat God van ons verlang is om vir Hom te lewe.
Dit is wat Miga 6:6-8 sê!
Dit is maklik om goed en geld voor die Here neer te sit.
Ons kleingeld, soms grootgeld.
Ons ou klere vir die armes….
en sakkies kruideniersware vir die in nood.
Maar God wil baie meer as dit hê.
Hy wil ‘n hart en lewe hê wat gesuiwer is van eiebelang.
Hy wil joú volledig hê!
Met Kersfees het die Here gekom om Homself volledig te gee.
Die Kind van God het mens geword,
sodat die mens kind van God kon word.
Eers wanneer jouself volledig en onvoorwaardelik vir die Here gee,
eers dan het jy Kersfees in jou hart.
Wanneer jy nog nie jouself geoffer het vir die Here nie,
sal jy die ware Kersfees tevergeefs soek,
in geskenkpapier onder ‘n kersboom.
Kersfees is weér een van die wonderlikste geleenthede,
om jouself opnuut aan die Here te gee.
Onvoorwaardelik volledig!
Ernest