Laurence Housman skryf oor Kersfees:
“Die Lig het na die wêreld gekyk en gesê:
“Daarheen sal ek gaan.”
Vrede het al die oorloë op aarde gesien en gesê:
“Dit is waarheen ek sal gaan.”
Liefde het gesien hoeveel haat daar op aarde is en gesê:
“Daar het hulle my nodig.”
Die Lig het gekom en oor die aarde geskyn.
Vrede het gekom en vir die mense op aarde rus gebring.
Liefde het gekom en vir die mense die Lewe geskenk.
So het die Woord mens geword en onder ons kom woon.”
Johannes 1:14.

 

Johan Cilliers sê die koninkryk van Jesus Christus kan vergelyk word met
tonele uit die Eerste Wêreldoorlog.
Groot dele van Europa is deur soldate beset.
Soldate het deur die strate van klein dorpies masjeer.
Kinders en vroue het vreesbevange voor hulle gevlug.
Toe kom die nuus dat die vyand beslissend verslaan is by Marne.
Die vyandelike magte het gaandeweg begin terugtrek.
Vier jaar daarna het soldate nog steeds in dorpies masjeer!

 

En tog was alles anders.
Dit was ‘n kwessie van opruiming, en tyd.
Mense kon met hoop lewe.

 

Kersfees is net so.
Jesus se koms het alles verander.
En tog het alles nie verander nie.
Die heersers soos Herodes is nog daar,
en kindermoorde het nie minder geword nie.
Die soldate masjeer steeds voort op oorlogspaaie….
En tog het die einde aangebreek.
Die Kindjie is reeds deur die heidene,
wat van vêr af gekom het, as Koning vereer.
Dit is nou net ‘n kwessie van opruiming,
opruiming van Satan se invloed,….
en net ‘n kwessie van tyd.

 

Dán sal “elkeen wat in die hemel en op die aarde is,
die knie buig, en elke tong sal bely:
“Jesus Christus is die Here”……Filippense 2:10-11.

 

Ernest