Dit is maklik om as ‘n kind ‘n kersdraer te wees in ‘n Kersspel tydens Kersfees.
Dit word moeiliker om ‘n kind van die Lig en ‘n ligdraer te wees,
wanneer jy oor 40 jaar oud is,
deur jou lewensmaat verlaat is,
en deur jou werkgewer ‘n goue handdruk gegee is.
Dit is nog moeiliker om ‘n ligdraer te wees,
wanneer jy oor die 70 is,
verskeie operasies gehad het,
jou lewensmaat oorlede is,
en jy begin worstel met eensaamheid.

 

Dit is ook pynlik om ligdraers te wees in die harde werklikheid,
wanneer ontaarde en korrupte mense jou beledig, en vervolg,
en allerhande kwaad en valshede teen jou praat.

 

Tóg, sê die Woord, is dit ‘n eienskap van iemand
in wie die Gees van God woon.
Daarom sê Filippense 2:15-16:
“Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly,
onberispelike kinders van God, te midde van ontaarde en korrupte mense.
Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra.”

 

Wanneer jy die ligprisma bekyk,
sien jy dat die kleure sag met mekaar versmelt,
wanneer die ligstraal daardeur skyn.
Mense kyk ook na gelowiges en die lig wat deur ons skyn.
Hulle hou ons fyn dop, om te sien of die ware Lig deur ons skyn,
om te sien hoe die ligkleure van die Heilige Gees deur ons skyn:
“Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
getrouheid, nederigheid en selfbeheersing”, hoe dit sag met mekaar versmelt,
as die vrug van die Gees in en deur ons.
Galasiërs 5:22-23.

 

Ons is beelddraers en verteenwoordigers van die Lig,
wat na die wêreld gekom het met Kersfees.
Ons steier soms onder hierdie verantwoordelikheid.
Maar Jesus het hierdie Galasiërs 5:22-23 lewe kom leef,
en dit vir ons moontlik kom maak aan die kruis, en deur die Heilige Gees!
Daarom het God sy Gees vir ons gegee,
om ons in die waarheid te lei,
ons in alles te onderrig,
en vir ewig by ons te bly. Johannes 16:13.

 

Gaan leef nou, na Kersfees, as ‘n ligmens!

 

Ernest